Spreuke 15:1 “’n Sagte antwoord laat woede bedaar; ’n krenkende woord laat woede opvlam.”
Een enkele sin kan ’n mens se lewe breek. Net so kan een enkele sin tot ons redding wees. Ons dink dikwels dat die antwoorde op ons komplekse lewenssituasies ingewikkeld moet wees. Spreuke verras ons egter met die eenvoud daarvan: hoe ons met mekaar praat, maak ’n verskil.
Ons mag baie gekant wees teen vloek en onsself daarvan weerhou, maar lelike woorde kan ongemerk deel word van ons daaglikse woordeskat. En die oorsprong daarvan lê dikwels dieper as bloot ons taalgebruik. Dit kom uit ons verwagtinge, teleurstellings, behoeftes en onvervulde begeertes. Ons verstand kan ons dalk help om nie aan die rou emosie van ons hart uiting te gee in ’n vloekwoord nie. Maar soms vind dieselfde emosie bloot ’n ander, meer subtiele manier om uit te kom – woorde wat net so seermaak.
’n Sagte antwoord kom daarom uit ’n dieper bron as bloot goeie redenasie of selfbeheersing. Dit is gewortel in ’n geloof wat op Jesus se lewe, leiding, sterwe en opstanding gerig is. ’n Sagte antwoord is uiteindelik nie ’n bewys van hoe goed ons onsself kan beheer nie, maar ’n getuienis van God se genade wat ons verander.
Gebed
Here Jesus, ons bely dat ons woorde soms seermaak, selfs wanneer ons nie bedoel om iemand te breek nie. Verander dit wat in ons harte leef, sodat dit wat uit ons monde kom, nie woede en oordeel saai nie, maar genade en vrede. Gee ons die wysheid om sag te antwoord wanneer ons kwaad is, die nederigheid om stil te bly wanneer ons moet, en die geloof om te onthou dat ons self uit U genade leef. Laat ons woorde vandag iets van U liefde laat hoor. Amen.