Jesus se hande en voete in Calitzdorp

Daarom verbind ek myself opnuut

Deur: Ds. René Herselman

Ons dank die Here vir die geleentheid wat ons gedurende die Junievakansie gehad het om die gemeenskap van Calitzdorp te bedien. Gedurende hierdie paar dae het ons span, bestaande uit Stellenbergers en ‘n groep van die La Rochelle-gemeente, die voorreg gehad om die liefde van Christus deur woord én daad uit te leef.

Ons program het gefokus op kwaliteittyd saam met die kinders. Ons het saam met hulle speletjies gespeel, verhoudings gebou en ‘n vrolike, verwelkomende atmosfeer geskep. ‘n Poppekasvertoning is aangebied om belangrike lewensbeginsels aan die jongspan oor te dra, waarna die praktiese lesse deur kreatiewe aktiwiteite verder ingeoefen en vasgelê is.

Kos is ook aan die kinders en ander gemeenskapslede uitgedeel as ‘n tasbare bewys van Christus se liefde en omgee.

‘n Besondere hoogtepunt van die uitreik was toe ons die kinders kon seën met serpe en musse wat met liefde deur ons gemeente se breigroep gebrei is.

Saans het ons op die tieners in die gemeenskap gefokus. Ons het saam met hulle gesing, gekuier en waardevolle verhoudings gebou. Hierdie byeenkomste het ons die geleentheid gebied om jongmense te bemoedig en die hoop wat in Jesus Christus gevind word, met hulle te deel.

Die uitreik was ‘n besonder verrykende ervaring wat ons die geleentheid gegee het om die hande en voete van Jesus te wees deur in mense se geestelike én praktiese behoeftes te voorsien. Ons het groot vreugde, dankbaarheid en ontvanklikheid in die gemeenskap ervaar, en ons vertrou dat die saad van die evangelie wat gesaai is, in baie harte sal groei en vrug sal dra.

Ons spreek ons opregte dank uit aan almal wat vir die uitreik gebid het, daaraan deelgeneem het, gehelp het met die voorbereiding van etes, en veral aan ons breigroep wat met soveel liefde die serpe en musse gebrei het. Julle bydrae het ‘n betekenisvolle verskil in baie mense se lewens gemaak.

Aan God alleen kom al die eer toe vir sy beskerming, voorsiening en leiding gedurende die uitreik. Ons bid dat Hy die gemeenskap van Calitzdorp ryklik sal seën en dat die verhoudings wat tydens hierdie uitreik gebou is, sal voortgaan om tot sy eer vrug te dra.