Dagstuk | Donderdag 8 Augustus 2024

Dagstuk | Woensdag 7 Augustus 2024
Dagstuk | Vrydag 9 Augustus 2024

 

Psalm 90:12. Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom.

Wat is ons verwagting as ons die teksgedeelte van Psalm 90 bid? Ons kom elke dag voor die uitdaging van probleme te staan. Albert Einstein het twee baie interessante dinge oor die hantering van probleme gesê. Eerstens, dat ons nie probleme kan oplos deur op dieselfde vlak van denke te bly waarin hulle ontstaan het nie en tweedens, dat ons geneig is om in ons denke eerder by die probleem vas te haak as by die oplossing. Alhoewel ons ‘n paar probleme logies en berekend kan oplos, is daar ander wat veel moeiliker is. Hieroor praat die teks in Psalm 90 met ons. Terwyl ons eie kundigheid gegrond is op ons eie kennis, ervaring en vermoëns is die wysheid waarvan die Bybel praat gegrond buite onsself in God en sy verbintenis met die groter skepping. Dit daag ons uit om vandag ons probleme te hanteer deur ‘n vlak van denke buite ons eie denke, perspektiewe en ervaringe. Dit wil ons help om nie in ons eie emosies en vooroordele rond te swem en persoonlik en liggeraak te reageer op die uitdagings wat voor ons opdaag nie. Hoe is die Here op hierdie manier in hierdie tyd met jou besig? Dink spesifiek vandag aan die paar probleme waarmee jy al lank  binne in jouself worstel en nie opgelos kry nie. Is ons werklik bereid dat die Here ons deur wysheid kom verander? Is ons bereid om ons eie sterk emosies te laat gaan en vandag ons probleme uit God se veel groter perspektief te sien?

 

Gebed

Here, help my om hierdie hede waarin ek my vandag bevind te onderskei. Ek kies dikwels om vir lank in my eie emosies van my probleme vas te val en dit op dieselfde vlak oor en oor te bedink en telkens tot dieselfde konklusies te kom wat dit nie oplos nie. Gee my vandag insig in myself en die openheid en bereidheid dat U my vandag na ‘n ander vlak van denke bring. Ver buite my eie persoonlikheid en vermoëns na die lesse wat U my in hierdie groter skepping mee wil verras. Help my verstaan dat ek dikwels eerder deel is van my eie probleme as die oplossing daarvan. Dankie dat U in hierdie oggend my daarvan kom verlos. Amen.