Ons het verlede naweek Paasfees gevier en diep nagedink oor die lyding van Christus aan die kruis vir elkeen van ons. Na Jesus se kruisiging en opstanding was daar ’n paar prominente verskynings aan mense waarvan ons in die Bybel lees. Ek wil jou graag uitnooi om hierdie week saam met my by hierdie verskynings stil te staan.
TEKS: Johannes 20:16: Jesus het vir haar gesê: “Maria!” Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester.
TEMA: Jesus verskyn aan Maria Magdalena
BOODSKAP:
Maria Magdalena gaan na die graf toe om Jesus se liggaam te gaan versorg. Tot haar verbasing staan die graf oop – haar eerste gedagte is dat Jesus se liggaam gesteel is, en sy hardloop na die dissipels toe en vertel hulle dat Jesus se liggaam gesteel is – asof dit nie genoeg is dat Hy gesterf het nie.
Maria gaan terug na die graf en huil – ontroosbaar. Sy soek vir Jesus – al is dit net Sy dooie liggaam. Toe sy in die graf inbeweeg, sien sy die engele en vra waar haar Jesus is. As sy omdraai om uit die graf te gaan, staan Jesus daar. Al wat Jesus vir Maria hoef te sê, is een woord … haar naam. En sy draai om en val by Sy voete neer.
Jesus het opgestaan. Wat verkondig ons lewens? Lyk ons lewe asof Jesus nog in die graf is, of leef ons met ’n oorwinnende vreugde? Die Here het opgestaan, Hy het waarlik opgestaan. Ons Here leef … Maar vandag word ons geroep om ’n bietjie te dink oor die vraag: Sien mense dit in jou lewe? Ja, die lewe druk en is vol uitdagings. Die petrolprys styg en kos word al duurder. Midde al hierdie uitdagings: Waar is jou Here? In die graf, of het Hy waarlik opgestaan? Leef ons met ’n lewende hoop of met ’n konstante vrees?
GEBED
Here Jesus, ons loof U vandag,
omdat U vir ons duidelik gewys het dat die dood nie die laaste woord spreek nie;
omdat U ons weer kom vul het met hoop en geloof;
omdat U ons oë kom oopmaak het vir nuwe moontlikhede, nuwe realiteite, nuwe maniere van leef.
Open ons verstand om te glo wat ons nie kan verklaar nie;
open ons harte om te hoop op wat ons nie kan sien nie;
open ons lewens om te leef en lief te hê te midde van dood en hartseer;
laat die opstanding vandag weer in ons gebeur.
Amen.