Dagstuk | Dinsdag 21 April 2026

Dagstuk | Maandag 20 April 2026
Dagstuk | Woensdag 22 April 2026

Gister het ons gepraat oor die wonderlike woordjie “gelukkig”. Vandag wil ons beter probeer verstaan hoe ons by hierdie geluk kan uitkom. Ons psalm sê dat jy die regte raadgewer moet kies op jou lewenspad. As jy die raad van ’n goddelose raadgewer volg, sal dit goed gaan—totdat dit skielik nie meer goed gaan nie. As die storm kom, waai die wind jou weg soos kaf.

As jy die lewenspad aanpak met God se wet in jou ore en in jou hart, staan jy sterk teen die wind—so sterk soos ’n boom met diep en sterk wortels. Want maak geen fout nie: die storms sál kom. Daaroor het Jesus ons in een van sy kort gelykenisse gewaarsku (lees gerus Matt. 7:24–27). Kyk ’n bietjie: die storm wat die huis op die rots tref en die storm wat die huis op die sand tref, word presies eenders beskryf. Dit is dieselfde storm; dit doen niks aan die huis wat op die rots gebou is nie, maar die huis met ’n sandfondasie tuimel inmekaar.

Ons kan die mensdom breedweg verdeel in grypers en gewers. Party mense leef met die doel om soveel as moontlik vir hulleself te versamel: eer, aansien, geld, mag, seks, ensovoorts. En as ons eerlik is, moet ons toegee dat daardie versoeking vir ons eie hart ook baie groot is. Daarom het hulle raad altyd te make met hoe ons meer invloedryk kan raak. Dit gaan oor hoe ons meer en meer geld kan maak. Hulle verduidelik hoe ons aantrekliker en verleideliker vir ander kan wees.

Omdat ons dit nie self snap nie, moet God ons beveel om gewers te wees—dit is wat sy wet beteken. God se wet, soos Jesus dit saamgevat het, beveel ons immers om God met alles in ons lief te hê—dit is om onsself aan God te gee. En Hy beveel ons om ons naaste lief te hê soos onsself. Dit is mos om te gee van ons tyd, ons geld, onsself. Dit is hoekom mense wie se lewe om eiebelang draai, inderdaad goddeloos is.

Daarom: luister na God se raad vir jou lewe; sê nee vir die eiebelang-stemme. Gelukkig is jy as jy dit doen!

Kom, ons herhaal ons gebed vir hierdie week: Here, gee vir ons geheiligde ore om mee te hoor, en vorm ons denke deur u Woord, sodat ons die ware geluk kan hê en met insig vrugbaar kan lewe. Amen.