Dagstuk | Dinsdag 12 Mei 2026

Dagstuk | Maandag 11 Mei 2026
Dagstuk | Woensdag 13 Mei 2026

 

In voorbereiding vir Pinkster gesels ons hierdie week oor die Gees van God. Vandag dink ons na oor Genesis 2:7

Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ‘n lewende wese geword het.

In die Ou Testament is daar ‘n basiese begrip dat dit God se Gees is wat lewe gee aan alles wat asem het. Hier in Genesis 2 sien ons dat die mens uit stof gevorm is, maar nog nie lewend was tot God nie die lewensasem in die mens ingeblaas het nie. Alle mense lewe, omdat hulle gevul is met God se Gees.

Ons sou ook kon dink dat dit juis hierdie eienskap is wat mense uniek maak, anders as diere. Maar al die diere word later in vers 19 met dieselfde term ‘lewende wesens’ beskryf. Alles wat lewe, lewe omdat dit die lewensasem het, God se Gees wat in hulle in geblaas is.

Die woord vir ‘gees’ in Hebreeus is die woord Ruach. Dit word ook vertaal met asem, of wind. Gees, wind en asem is al drie vervleg binne een woord – Ruach.

Iets hiervan word duidelik in Psalm 104:29-30, soos die 1953 vertaling dit vertaal: “U verberg u aangesig, hulle word verskrik; U neem hulle asem weg, hulle sterwe en keer terug tot hul stof. U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut.”

Let vir ‘n oomblik op na jou asemhaling. Elke keer wat jy asemhaal, is dit ‘n geleehteid om herinner te word dat die Gees van God in jou is en jou lewe moontlik maak. Let ook op dat dit God se Gees is wat lewensasem aan alle lewende wesens gee. Alles wat leef, is draers van God se Gees.

Waarheen nooi hierdie gedagte jou vandag uit? Dalk is dit om op te let na jou asemhaling en te besef dat God se Gees in jou en by jou is? Dalk is dit om op te let dat God se asem in ander is en dat wanneer ‘n ander lewende wese oor jou pad kom, jy in hulle, ‘n stukkie van God se Gees ontmoet.

Mag ons vandag leef met ‘n bewustheid van die Gees van God in ons en rondom ons.

Amen.

Gebed

Here, herinner ons vandag dat U so naby aan ons is soos ons eie asem. Dat dit deur U Gees is wat ons asemhaal. En dat alles wat asem het, gevul is met U Gees. Mag hierdie bewustheid ons lei om as U beeld in U skepping te leef.

Amen.