Dagstuk | Donderdag 14 Mei 2026

Dagstuk | Woensdag 13 Mei 2026
Dagstuk | Vrydag 15 Mei 2026

In voorbereiding vir Pinkster gesels ons hierdie week oor die Gees van God. Vandag is Hemelvaart en dink ons na oor Johannes 16:7.

Johannes 16:6-7
“Maar omdat Ek hierdie dinge vir julle gesê het, is julle harte vol droefheid. Ek vertel julle egter die waarheid: Dit is voordelig vir julle dat Ek weggaan. As Ek nie weggaan nie, sal die Parakleet nie na julle kom nie.”

Hemelvaart gaan gepaard met die belofte van die Heilige Gees, wat Johannes die Parakleet, of Helper, noem. ’n Hele paar kere in my lewe het ek al gewens dat ek met Jesus in vlees en bloed kon praat, dat ek aan Hom kon raak en fisies in sy voetspore kon volg. Ek vermoed ek is nie die enigste een wat dit al gewens het nie.

Die dissipels se harte is vol droefheid omdat Jesus gesê het Hy moet na sy Vader gaan. Die dissipels verstaan nie hoekom Jesus moet gaan nie en sou eerder wou hê dat Hy by hulle moet bly. Maar Jesus maak dit duidelik dat dit beter is vir hulle dat Hy gaan.

As Hy nie weggaan nie, kan Hy nie op hierdie manier teenwoordig wees nie. Dit is juis omdat Hy weggaan dat Hy deur die Gees teenwoordig kan wees.

As ek terugdink aan my begeerte om ’n vlees-en-bloed-Jesus in my lewe te hê, besef ek daardie begeerte is dikwels gekoppel aan die begeerte om my probleme iemand anders se verantwoordelikheid te maak. Jesus kan dan al my probleme uitsorteer, terwyl ek soos ’n toeskouer agter Hom aanloop. Dit is amper soos om te dink jy gaan ’n goeie rugbyspeler word deur net op die paviljoen te sit en kyk hoe ander speel. Dit is duidelik nie wat Jesus en God in gedagte het nie.

Van die begin af kies God om saam met mense ’n pad te stap en deur mense herstel in die wêreld te bring. Jesus is nie die Een wat al ons probleme kom oplos terwyl ons toeskouers bly nie. Dit is juis deur Jesus in ons, deur die Gees van God, dat God sy koninkryk sigbaar maak en herstel bring.

Met Hemelvaart word ons herinner dat dit beter is dat Jesus nie meer langs ons is nie, sodat Hy deur sy Gees in ons kan wees en deur ons sy koninkryk sigbaar kan maak.

Jesus word deur jou beliggaam.

As gebed sluit ons af met die seënbede van Teresa van Ávila.

Gebed
Christus het geen liggaam behalwe joune nie,
geen hande, geen voete op aarde behalwe joune nie.

Joune is die oë waarmee Hy met deernis kyk
na hierdie wêreld.

Joune is die voete waarmee Hy loop om goed te doen.
Joune is die hande waarmee Hy die hele wêreld seën.

Joune is die hande, joune is die voete,
joune is die oë — jy is sy liggaam.

Christus het nou geen liggaam behalwe joune nie,
geen hande, geen voete op aarde behalwe joune nie.

Joune is die oë waarmee Hy met deernis kyk
na hierdie wêreld.

Christus het nou geen liggaam op aarde behalwe joune nie.

Amen