Goeiedag!
Dit is weer sulke tyd … Pinkstertyd!
Ek glo daar gaan by elkeen van ons ’n paar mooi emosies en herinneringe oop wanneer ons by Pinkstertyd kom. Vandat ek kan onthou, is daar altyd spesifieke assosiasies met Pinkster. Dis gewoonlik koud so aan die begin van die winter. Dis kerk toe gaan, saam wees, saam luister na wat God tydens Pinkster vir ons wil sê. Dis saam bid, saam sop geniet en saam as volgelinge van Jesus geestelik verdiep soos sy Pinkstergeskenk aan die kerk — die Heilige Gees — op ’n besondere manier met ons besig is.
Dit is dan ook die historiese wortels van Pinkster in ons kerk: verdieping, gebed (wat ons beslis nie tydens Pinkster moet afskeep nie!) en herlewing. Mag hierdie Pinkster weer alles hiervan vir ons wees.
Tydens Jesus se laaste gesprekke met sy dissipels daar in die bovertrek, kort voordat Hy gevange geneem en gekruisig is, gee Hy aan hulle die wonderlike belofte van die Heilige Gees. Diep onseker oor die toekoms, verseker Hy hulle in Johannes 14:16-17:
“Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid! Julle sal Hom ken, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees!”
WOW! Jesus se Pinksterbelofte aan sy dissipels — en ook aan sy kerk van alle tye! Maar wat hou hierdie belofte presies vir hulle en vir ons in? Kom ons stof weer hierdie belofte af en hoor opnuut wat die implikasies is van die Gees wat aan ons gegee word en wat ons hierdie week vier!
• Hy sal vir ons die Voorspraak wees — die Advokaat, die Parakleet wat vir ons intree en pleit. Hy begelei ons dag ná dag op ’n persoonlike manier as die Wegwyser, ons Helper en ons Trooster.
• Hy sal vir ewig by ons wees! Ons is nie as weeskinders agtergelaat nie, maar Hy woon by ons en in ons.
• Hy is die Gees van die waarheid. Hy begelei ons in die waarheid. Veral in ons tyd, waar waarheid so maklik by die agterdeur uitgegooi word, wys Hy vir ons, midde-in ’n komplekse wêreld, wat reg en verkeerd is. Hy oortuig ons van sonde en verkeerdheid.
Kom ons maak vandag die mooi gebed uit die lied van Jan de Wet ons eie:
“Gees van God wat in my woon,
breek die Woord vir my.
Gees van God wat in my woon,
kom en heilig my!
Troos my, sterk my, leer my, lei my.
Gees van God wat lewend maak,
vul my meer en meer
en vorm my tot u eer.”
Amen.