Goeiedag! Ons gaan voort met ons kort reis deur die eerste gedeelte van Handelinge. Ons is in ons Pinksterweek en deel met mekaar oor die impak van die koms van die Heilige Gees op ons lewe, maar ook op die kerk.
Ek het die voorreg om reeds vir ’n paar dekades deel te wees van hierdie besondere Stellenberg-geloofsgemeenskap. Ek onthou nog goed toe ek die eerste keer die kerkgebou binnegestap het en getref is deur dit wat op ons kerkmuur staan — twee verklarings. Ons kan ook sê: ’n belydenis wat ons identiteit uitspel: “Jesus, ons Verlosser, leef!” Maar ook ons duidelike, oortuigende missiestelling, ons missionale verklaring: “Stellenberg reik uit oor alle grense.”
Soos vir baie ander, het hierdie stellings my diep aangegryp omdat dit so duidelik uitspel wie ons is en wat ons moet doen.
Dit is veral ons missieverklaring wat ons baie naby aan die Pinkstergebeure bring. Direk voor sy hemelvaart het Jesus dit in een vers opgesom — seker een van die bekendste en mees uitdagende verse in die Bybel. Dit het amper oorbekend geword, maar kom ons stof dit hierdie Pinkster weer ’n bietjie af. Dit is die belofte, die vervulling waarop die dissipels moes wag:
Handelinge 1:8:
“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld!”
In ons gemeente se taal: Omdat ons glo in die opgestane Here Jesus wat leef, en omdat ons ons identiteit in Hom vind, en omdat ons onsself oopstel vir die kragtige werking van die Heilige Gees van Pinkster, reik ons met passie en toewyding uit oor alle grense!
Pinkster is uitdagend. Pinkster roep op. Pinkster plaas die kerk en gemeente op koers in die wêreld. Pinkster sê ons kan en mag ons nie die weelde van gemaksones en enklawes veroorloof nie. Pinkster daag die kerk uit om nie te ontaard in ’n monument wat slegs sy eie belange dien nie, maar om uit die blokke te kom en ’n kragtige beweging in die wêreld te wees.
Maklik? Verseker nie. Daar is baie uitdagings wat ons wil verhinder. Is dit noodsaaklik? Kyk maar net na ons wêreld en omgewing — dit sal die antwoord gee.
Daarom moet ons, soos die dissipels van ouds, vashou aan hierdie belofte van Jesus: dat God se Pinkstergeskenk aan sy kerk, die Heilige Gees, die nodige krag, wil en vermoë sal gee sodat ons, soos een van ons kernroepingstellings dit uitspel, ’n verskil in die wêreld sal maak soos ons oor grense heen die koninkryk van God uitleef en uitbou.
Gebed
Here, ons het dit so nodig om weer die erns van u roeping en opdrag ter harte te neem. Vergewe ons dat ons ons so maklik verskans in ons eie kampie van gemak en so moeilik die grense waarna ons mure verwys, oorsteek. Laat ons hierdie Pinkster weer begeester word deur u Gees wat ons bemagtig vir hierdie taak.
Amen.