Teks: Markus 10:45
“Want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien …”
Om soos Jesus te dien, beteken om ander met ‘n nederige en onselfsugtige hart eerste te stel. Dit is ‘n leefstyl van opofferende liefde, waar ons ons naaste prakties bystaan, vergewe en bemoedig, ongeag ons eie status of agtergrond. ‘n Dienende hart weerspieël Christus. Die skoonheid van nederigheid skyn helderder as status en aansien.
Dit is een van die belangrikste gevolge daarvan om jouself ‘n volgeling van Christus te noem: om om te gee en mekaar te dien. In die geloof gaan dit oor “ons” eerder as “ek”. Hoe kan ek jou help om die lewe ‘n makliker reis te maak?
Die Afrika-teoloog, John Mbiti, het geskryf dat die Afrikabeginsel van “ubuntu” iets beskryf van wat Jesus lankal met die kerk of gemeente bedoel het: “Ek is omdat ons is.” Die diepste betekenis van die woord “ubuntu” is: ‘n Mens is ‘n mens deur ander mense. Die Here bedoel daarom dat ons daar is vir mekaar in terme van sorg en omgee. Ons het mekaar nodig. Niemand is belangriker as iemand anders nie.
Ons dien mekaar sodat almal versorg kan word. Só funksioneer die Here se liefde deur ons.
Teresa van Avila het treffend geskryf:
“Christus het geen liggaam op aarde behalwe joune,
geen hande behalwe joune.
Jou oë is die oë waardeur die liefde van Christus na die seer van die wêreld kyk.
Jou voete is die voete waarmee Christus wil gaan goed doen.
Jou hande is die hande waarmee Hy nóú wil seën en sorg.”
Leef as lid van die liggaam van Christus!
Liewe Here,
Dankie vir die geleentheid om ander te help. Leer ons om oop harte, vriendelike woorde en helpende hande te hê vir die mense rondom ons. Help ons om die behoeftes van ander raak te sien en om met liefde, deernis en vrygewigheid op te tree.
Mag ons nooit huiwer om hulp te verleen waar dit nodig is nie, en mag ons deur ons dade u liefde aan die wêreld wys. Seën almal wat ander dien en gee ons die wysheid om elke dag ‘n verskil te maak.
AMEN.