In hierdie kwartaal fokus ons as gemeente op die waarde om met ’n verskil in die wêreld te leef. Daarom wil ek in hierdie week se dagoordenkings op omgee fokus. Hierdie tema raak die hart van die Bybelse verhaal en gaan oor veel meer as net vriendelikheid of simpatie. Omgee is God se Gees wat ons daagliks dring om oplettend en met oop oë in God se skepping te leef. Dit wek in ons ’n deernis en getrouheid wat aan die lewe nuwe betekenis gee.
Ek wil vandag by die kern van omgee begin deur 1 Johannes 4:18–19 te lees:
“Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.”
Die woord omgee is veelseggend. Dit beteken dat ons die fokus van onsself af na die lewe rondom ons verskuif deur onsself vir ander te gee. Waarom sou ons dit doen as ons natuurlike menslike instink so sterk op ons eie oorlewing gerig is?
Hierin lê ’n diep geheimenis opgesluit – eenvoudig, maar maklik om mis te kyk. Ons gee om omdat ons diep onder die indruk kom dat God vir óns omgee. Sy liefde verdryf die vrees wat ons so maklik vasgevang hou en ons voortdurend op onsself laat fokus. Wanneer daardie vrees plek maak vir die sekerheid van God se liefde, word ons vry om met oop hande en oop harte te leef. Dan kry die lewe, selfs te midde van moeilike omstandighede, nuwe betekenis.
Wat maak jou bang? Wat hou jou terug om met omgee te reageer? Hoe is die Here se sorg besig om juis vandag na jou deur te breek en jou oë oop te maak vir die nuwe lewe wat Hy reeds voor jou ontsluit?
Gebed
Here, ons erken dat vrees ons harte dikwels klein maak. Vrees om te verloor. Vrees om seer te kry. Vrees dat daar nie genoeg sal wees nie. Vrees dat ons eie behoeftes nie raakgesien sal word nie. Vrees vir die onbekende. Ons besef nie altyd hoe hierdie vrese ons harte toesluit nie.
Help ons om U liefde te vind – die liefde wat alle vrees verdryf. Leer ons om vanuit die sekerheid van U liefde te leef, sodat ons die spontane dankbaarheid kan beleef wat geen grense ken nie. Dankie dat U my vandag wys hoe elke oomblik van die lewe, hoe uitdagend of moeilik dit ook al mag wees, nuwe betekenis kan kry. Amen.