Dagstuk | Vrydag 7 Augustus 2026

Dagstuk | Donderdag 6 Augustus 2026
Dagstuk | Saterdag 8 Augustus 2026

 

Omgee weerspieël God se deernis

Lees: Psalm 103:8 en 13

“Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.”

Woorde soos barmhartigheid, genade en liefde roep dadelik die beeld van omgee by ons op. Maar daar is nog ‘n woord in hierdie Psalm wat maklik ongemerk verbygaan: lankmoedigheid.

In die Hebreeus beskryf hierdie woord iemand wat nie gou kwaad word nie. God reageer nie impulsief op ons gebreke of ongehoorsaamheid nie. Hy bly geduldig, selfs wanneer ons Hom teleurstel.

Interessant genoeg hou die Hebreeuse uitdrukking verband met die beeld van ‘n neus of gesig. Wanneer iemand kwaad word, sê ons mos dat sy neusgate rek van woede. Nog voordat ‘n woord gesê word, verraai die gesig dikwels reeds wat in die hart aangaan. Die gesigsuitdrukking word maklik die voorloper van skerp woorde en kwetsende dade.

God se lankmoedigheid wys egter vir ons ‘n ander pad. Sy deernis word gekenmerk deur kalmte, geduld en selfbeheersing. Daarom begin omgee dikwels lank voordat ons iets sê of doen. Dit begin in die gesindheid waarmee ons na ander mense kyk.

Wanneer God se Gees ons harte vorm, word sy deernis ook in ons gesigte sigbaar. Ons luister langer voordat ons oordeel. Ons reageer sagter voordat ons kritiek uitspreek. Ons gee ruimte vir genade waar ons andersins ongeduldig sou wees.

Vra jouself vandag af: Wat sien mense eerste wanneer hulle my ontmoet? Sien hulle spanning en irritasie, of iets van die kalmte en ontferming van Christus?

Gebed

Here, dankie dat U barmhartig en genadig is, lankmoedig en oorvloedig in liefde. Dankie dat U geduldig met ons bly werk en ons nie volgens ons sondes behandel nie.

Vorm ons harte deur u Gees, sodat ons nie impulsief uit woede, teleurstelling of eiebelang sal reageer nie, maar met die kalmte en deernis wat van U kom.

Leer ons om geduldig te luister, sag te antwoord en met liefde op te tree, selfs wanneer dit moeilik is.

Mag mense vandag reeds in ons gesigte iets van u genade raaksien voordat ons ‘n woord spreek. Laat ons woorde, ons dade en ons hele lewe getuig van die liefde waarmee U ons eerste liefgehad het.

Amen.