’n Nuwe lewe in Christus is ‘n dankofferlewe

Young Davids en Young Esthers gee hoop aan die jeug van Klipheuwel
Raak betrokke by vroue van Klipheuwel

Saamgestel deur die fondsekommissie

Wat beteken dit dat Christus ons lewens vernuwe, en hoe lyk so ‘n nuwe lewe? In Romeine 12 gee Paulus ‘n duidelike antwoord. Om deel van die kerk van Jesus Christus te wees en as gelowiges saam te leef, is nie in die eerste plek ‘n saak van reëls, verpligtinge of ingewikkelde voorskrifte nie, dit is eerder ‘n spontane reaksie op God se groot ontferming. Wanneer ons werklik begryp hoe groot sy genade is, word dankbaarheid die dryfkrag van ons lewens. Daarom skryf Paulus: “Op grond van die ontferming van God” moet ons onsself as ‘n lewende en heilige offer aan Hom toewy (Romeine 12:1). Dit lê aan die hart van die Christelike lewe.

 

Hierdie dankbaarheid beïnvloed elke aspek van ons bestaan. Dit motiveer ons om elke dag as ‘n dankoffer te leef: met opregte liefde, toegewyde onderlinge sorg, geesdrif in ons diens aan die Here, ‘n bereidheid om ander te help en te seën, en ‘n opregte strewe na vrede (Romeine 12:9-21). Dankbaarheid is dus nie iets wat net by spesiale geleenthede sigbaar word nie; dit is die daaglikse ritme van ’n lewe wat deur God se genade gevorm word.

 

Dieselfde geld vir ons gemeente. Ons gemeente is ‘n gawe van God. Dit is ‘n geloofsfamilie waar ons kan tuiskom, geestelik groei en deur die Here gevorm word. Vanuit hierdie gemeenskap stuur Hy ons nader aan Hom, nader aan mekaar en die wêreld in om ’n verskil te maak deur sy liefde sigbaar te maak. Terwyl God ons voortdurend deur sy Gees vernuwe, nooi Hy ons ook om saam verantwoordelikheid vir sy kerk en sy werk te aanvaar.

 

Die bediening en voortbestaan van ons gemeente word moontlik gemaak deur die vrywillige betrokkenheid van lidmate. Wanneer gelowiges hul tyd gee, hul gawes gebruik en ook finansieel bydra, word God se werk konkreet sigbaar in en deur die gemeente.

 

Elke jaar stel ons ’n begroting in geloof op. Ons vertrou dat die Here deur die vrygewigheid van sy kinders sal voorsien in alles wat nodig is vir die bediening van die gemeente. Tradisioneel word ’n groot deel van ons inkomste eers gedurende Oktober en November ontvang. Daarom is elke lidmaat se getroue betrokkenheid en dankoffer van groot waarde.

 

 Hoe kan jy bydra?:

Kollekte tydens eredienste

Kollekte word tydens eredienste opgeneem as deel van ons aanbidding en dankbaarheid teenoor die Here. Die fondse wat ingesamel word, word volgens vasgestelde persentasies verdeel tussen die verskillende bedieninge en instansies waarmee die gemeente saamwerk.

Maandelikse Dankoffer

Die maandelikse dankoffer vorm die finansiële grondslag van die gemeente se bedienings. Daarmee verbind lidmate hulle daartoe om volgens hul vermoëns gereeld en getrou by te dra, sodat die daaglikse bediening van die gemeente volhoubaar kan voortgaan.

Tiende-offer

Lidmate word uitgenooi om een of meer kere per jaar ‘n besondere dankoffer te gee, veral wanneer hulle ‘n bonus of ander buitengewone inkomste ontvang. Die Tiende-offer-insameling begin jaarliks tydens die gemeentebasaar in Maart en duur tot die einde van November.

 

Ander geleenthede om by te dra

Benewens die gemeente se dankoffers is daar verskeie bedieninge wat deur die jaar ondersteuning benodig en waarby lidmate betrokke kan raak.

  • Omgeetrust

Die Omgeetrust ondersteun verskeie barmhartigheidsprojekte wat hulp aan wees-, hawelose en kwesbare kinders, behoeftige senior burgers, voorskoolse kinders en gemeenskapsorganisasies wat betekenisvolle versorgings- en ondersteuningswerk verrig.

  • Kosprojek

Die Kosprojek voorsien maandeliks kospakkies aan ongeveer twintig gesinne en ondersteun vier sopkombuise met voedselbewyse en ander voedselhulp.

  • Geloofsoffers

Deur geloofsoffers ondersteun die gemeente tans vyf sendelinge en medewerkers wat die evangelie van Jesus Christus en sy liefde buite die grense van ons gemeente uitdra.

Wanneer ons ons tyd, gawes en finansiële middele aan die Here toewy, gee ons nie bloot iets van onsself nie; ons antwoord op sy genade. So word ons hele lewe, en ook ons gemeentewees, ‘n dankoffer aan God. Soos Dawid bid:

“Alles kom van U af, en uit u hand het ons dit aan U gegee.”
(1 Kronieke 29:14)

 

Hoe kan jy finansieel bydra?

Lidmate kan op verskeie maniere finansieel tot die bediening van die gemeente bydra:

  • Kontant:

Kontantbydraes word tydens die kollekte-opname in ons eredienste ontvang.

  • SnapScan:

SnapScan-kodes vir die verskillende dankoffergeleenthede is op die kerkbanke beskikbaar en word in die gemeentenuusbrief gedeel.

  • Elektroniese oorplasings (EFT):

Bydraes kan direk in die gemeente se bankrekening inbetaal word: ABSA-tjekrekening, 145 058 0011, takkode 632005. Gebruik asseblief MD as verwysing vir ’n maandelikse dankoffer en TO vir ’n Tiende-offer.

  • Maandelikse Debietorder:

Ons wil lidmate aanmoedig om ’n debietordervorm te voltooi.  Klik HIER om die vorm af te laai, of haal dit af in die voorportaal van die kerk, of kontak die kerkkantoor vir hulp met die opstel van ‘n maandelikse debietorder of ‘n herhalende betaling by die bank.

 

Hierdie bydraes word nie uit plig gevra nie, maar as ‘n dankbare antwoord op God se goedheid en genade in ons lewens.