Dagstuk | Woensdag 19 Augustus 2026

Dagstuk | Dinsdag 18 Augustus 2026
Dagstuk | Donderdag 20 Augustus 2026

Goeiemôre, vriende. Dis Woensdag 19 Augustus. In ons dagstukkies hierdie week lees ons Bybeltekste oor wilde voëls in God se skepping.

Ons tema vandag is: Kom terug soos die swaeltjies.

Tekslesing: Psalm 84:4-5; Jeremia 8:4-5, 7.

Mossies en swaeltjies het nes gemaak onder die dak van die tempel in Jerusalem. Swaeltjies het in die winter ver weggevlieg na waar daar somer is. Hulle het nie die hele jaar rondom die tempel gebly soos die mossies nie, maar hulle het darem weer van baie ver af teruggekom! Tot vandag toe migreer die swaeltjies so.

Die swaeltjies se terugkom elke jaar het die Here met hartseer laat dink aan sy volk Israel. Jeremia het die Here se hartseer só verwoord: “Die swaeltjies kom terug na my tempel, maar Israel nie.” Hoe kan dit wees? Die swaeltjies kom oor al die afstande terug, maar God se eie mense kom nie uit die sonde terug na Hom toe nie.

Die Here sien ons ook dikwels soos swaeltjies wat in ons harte weggaan van Hom af. Hy sien raak dat ons soms lank en in sonde van Hom wegdwaal en nie meer lewe soos Hy wil nie.

Dit laat my dink aan die gelykenis wat Jesus vertel het oor die verlore seun. Gaan lees in Lukas 15. Die pa het nie sy kind gestraf of verwyt toe hy terugkom nie, maar ’n fees berei. God is soos ’n hartseer pa wat bly wag vir sy wegloopkind, vir sy swaeltjies, om terug te kom.

Die swaeltjies herinner ons ook daaraan dat die Here wag op ons terugkoms waar ons sonde-afstand van Hom geneem het. Hy gaan nie in sy hart van ons af weg nie, maar wag vir ons terugkoms.

Jy ken dalk ook die vreugde om te sien hoe verlede jaar se swaeltjies terugkom na jóú huis toe. Kom ons maak God bly met ons terugkom. Bekering is ’n voortdurende terugkom en weer opnuut begin lewe saam met die Here, onder sy tempeldak, by Hom, naby aan Hom. Die Heilige Gees wat van jou ’n tempel, ’n woonplek gemaak het, is net ’n bekeringsgebed ver.

Gebed:

Dankie, Here, dat U nie die swaeltjie in ons verwerp nie, maar weer en weer vir ons wag.

Mooi loop, vriende.