Annibrand Senior Kleingroepleier FAQ

48 Comrades-wedlope – ontmoet vir Wietze
Sopher Simlah – ’n unieke klerereeks deur Janita Toerien

Annibrand senior groepe FAQ

Ons nooi studente, ouers en ander volwassenes om ‘n gids te wees wat tieners begelei op hul geloofsreis!
Ons weet jy het ‘n paar vrae, daarom antwoord ons graag hier ‘n paar algemene vrae:

Hoe lank is die kleingroepsessies?

Ons kom as leiers om 17h30 voor die aanddiens bymekaar om gedagtes rondom die ontmoeting uit te ruil en vrae met die predikant te bespreek. Bywoning hiervan is egter nie verpligtend nie. Na die diens volg die kleingroepsessies, wat ongeveer 45 minute duur en teen 19h30 afgehandel is.

Watter kennis het ek nodig?

Gespreksmateriaal word voorsien, en dieselfde tema en Skrifgedeelte word ook tydens die aandiens behandel. Die kleingroep gesprek bou hierop voort. As leiers fasiliteer jy hoofsaaklik gesprekke en help jy tieners om vrae te verken en met mekaar daaroor te gesels. Deur betrokke te wees, groei ons eie kennis ook, en leer ons saam met die tieners. Jy hoef dus nie al die antwoorde te hê of alles perfek te kan verduidelik nie. Ons vra bloot dat jy teenwoordig en betrokke sal wees. Ons beskryf kleingroepleiers as gidse wat saam met tieners ‘n pad stap en hulle help om meer van God te ontdek op hul reis, eerder as ‘n onderwyser wat ‘n les aanbied.

Moet ek elke Sondag daar wees?

Hoe meer leiers ons het, hoe meer kleingroepe kan ons aanbied. Die ideal is om twee leiers per kleingroep te hê wat die groep saam bedien, verhoudings bou en vir mekaar instaan waneer een nie beskikbaar is nie. As ons genoeg leiers het, kan ons ook met ‘n rotasiestelsel werk, met ‘n kernspan en aflosleiers.

Hoe groot is ‘n tipiese kleingroep?

Groepe bestaan gewoonlik uit ‘n hanteerbare aantal tieners (6-10), sodat almal die geleentheid kry om deel te neem en verhoudings te bou. Hoe meer leiers, hoe kleiner die groepies kan wees.

Wat word van my verwag as leier?

Ons moedig leiers aan om vir ten minste ‘n jaar betrokke te wees sodat betekenisvolle verhoudings met die tieners gebou kan word. Dis belangrik om ‘n veilige ruimte vir tieners te skep en hulle te help om hul verhouding met Jesus te ontdek, verdiep en uit te leef. Alles wat jy vir die kleingroepbyeenkoms benodig, sal voorsien word. Voorbereiding behels hoofsaaklik dat jy die materiaal wat vooraf gestuur word deurlees, sodat jy vertroud is met die tema van die ontmoeting. Dit is ook baie waardevol waneer leiers hul eie lewenservaring gebruik om tieners te mentor en te begelei.

Sal ek opleiding of ondersteuning ontvang?

Ja. Leiers ontvang opleiding aan die begin van die jaar, weeklikse materiaal en deurlopende ondersteuning word deur die jeugbedieningspan en predikant voorsien.

Hoe lyk die die materiaal?

Ons gebruik Jeugfokus materiaal, met vier bewegings: Welkom,Wonder, Wees en Wegstuur. Die materiaal gee elke week riglyne wat die gesprek help, maar die idee is nie om rigied met die materiaal te werk nie. As die gesprek in ‘n spesifieke rigting gaan waaroor die groep nodig het om te gesels, is dit goed. Die vier bewegings help egter om ons te herinner aan wat in die groep belangrik is:

Welkom: Hoor hoe dit met mekaar gaan (gee om vir mekaar)

Wonder: Lees die teks. Wat staan vir jou uit of waar beleef jy die Here

Wees: ‘n Praktiese aktiwiteit of ‘n dieper refleksie oor die teks en hoe dit vir ons vandag belangrik is. Vra vrae (ons hoef nie altyd te antwoord nie). Voorbeeld vrae word verskaf.

Wegstuur: Wat nou? Waarheen nooi die Here jou in die week?Waarvoor kan ons vir mekaar bid?

Ek is nie sterk met leiding vat en praat nie. Kan ek op enige ander manier betrokke raak?

Ja. Ons het ook mense nodig wat met administrasie kan help, soos die die skep en bestuur van die WhatsApp-graadgroep, die skandering van tieners op Sondae (ons gebruik AppSheet) asook ondersteuning tydens groepaktiwiteite.

Ek het nog ander kinders in die laerskool, so woon tans die familiediens as gesin by. Moet my tiener in die aand inskakel of is daar alternatiewe opsies?

Nee, ons het ook twee bestaande Annibrand senior-oggendgroepies. Die een groep bestaan uit Gr. 8 en 9, en die ander groep is vir ouer tieners. Jou tiener is welkom om by een van hierdie groepe in te skakel totdat julle as gesin gereed is om na die aanbediening oor te skuif. Volwassenes wat bereid is om ‘n oggendgroep te fasiliteer, is ook welkom om op so ‘n manier betrokke te wees.