Dagstuk | Woensdag 21 Oktober 2026

Dagstuk | Dinsdag 20 Oktober 2026
Dagstuk | Donderdag 22 Oktober 2026

Die liefde is geduldig

Dagsê!

Ons dink vandeesweek saam oor 1 Korintiërs 13. In vers 4 staan daar: “Die liefde is geduldig.”

’n Amerikaanse sielkundige, Sarah Schnitker, het in 2012 ’n doktorsgraad in sielkunde verwerf met navorsing oor geduld. Sy het ondersoek ingestel na hoe geduld ’n mens se geestes- en liggaamlike gesondheid bevorder. In haar proefskrif het sy geduld só gedefinieer: Geduld is die geneigdheid om kalm te wag wanneer jy frustrasie of teenspoed ervaar.

Wanneer Paulus sy lysie maak van die manier waarop liefde optree, is die heel eerste woord wat by hom opkom: “geduld”. Dalk is dit die moeilikste een in die hele lysie, want as dr. Schnitker reg is, is hierdie neiging om kalm te wag juis iets wat na vore kom wanneer jy teenspoed en frustrasie ervaar. Nie lekker nie! Ho-ho, glad nie lekker nie!

Paulus het nie hierdie proefskrif gelees nie, maar deur die Heilige Gees het hy God se hart, soos dit in Jesus geopenbaar is, leer ken. Sy begeerte was dat mense Jesus in ons moet raaksien.

Vir my is een van die mooiste prentjies wat die Bybel van God se geduld teken, in Genesis 3 te vind.

In die Ou Testament word God se optrede meermale in menslike beelde aan ons voorgestel, sodat ons God se geaardheid beter kan verstaan. Vir my is een van die wonderlikste beelde van God se geduld juis die voorstelling daarvan in Genesis 3. Toe Adam en Eva God se uitdruklike gebod oortree het, het God nie al rasende op hulle afgestorm nie. Hy het rustig en kalm in die aandwindjie na hulle toe gestap.

Vir God was dit ’n situasie van teenspoed en frustrasie. Hulle oortreding was immers die grootste ramp in die hele geskiedenis van die mensdom, maar God het kalm gebly.

Dink ook aan hoe kalm en vriendelik Jesus met die ongelowige Thomas was.

God hou met ons uit! God gee ons rustig kans om te groei, te ontwikkel en geestelik volwasse te word. Ware liefde, soos die liefde van Jesus, kán vriendelik en geduldig wees met mense wat foute maak en sonde doen. Só moet ons ook met mekaar geduldig wees.

Maar ons moet ook leer om met God geduldig te wees. Want ons wil mos hê dat die ding wat ons vandag by Takealot bestel het, gister al afgelewer moes gewees het!

God kon gister al gegee het waarvoor ons vandag eers bid, maar God wil dikwels hê dat ons geduldig op Hom moet wag. En ons sukkel om dit reg te kry. Gelukkig is God geduldig met ons ongeduld.

Gebed

Kom ons bid nou saam met die woorde van Lied 334:

“U is Liefde!” juig ons harte,
en bedink wat liefde doen:
Dat U ons u Seun gestuur het
om ons sonde te versoen.

U wat eerste liefgehad het,
het in liefde ons vergeef —
nou kan ons, uit U gebore,
uit die bron van liefde leef!

Deur u Gees, die wondergawe,
laat U wederliefde spruit;
en die liefde — wat volmaak is —
dryf die vrees en selfsug uit.

As U, o Vader, dan ’n sondaar
maak tot kind,
mag u Seun al meer gestalte
in ons doen en late vind.