Die Liefde Verheug Hom oor die Waarheid
Dagsê!
Die liefde, sê Paulus in 1 Korintiërs 13:6, verheug hom oor die waarheid.
Aan die begin van hierdie reeks het ek gesê: Paulus beskryf nie net wat liefde is nie. Hy teken ʼn portret van Jesus. Jy kan dus elke keer die woorde “die liefde” vervang met die naam “Jesus”. Dan lees ons: Jesus verheug Hom oor die waarheid. Dink maar hoe trots Jesus op Natanael was in Johannes 1:47-51. Hy het gesê: “Hier is ʼn ware Israeliet, ʼn man in wie daar geen bedrog is nie.”
Die liefde in hierdie teks is Jesus. Maar Paulus skryf nie Jesus se naam nie, want hy wil hê dat jy jou eie naam daar moet kan invoeg. Dit is die tweede stap. Mense in wie die Heilige Gees woon, verheug hulle ook oor die waarheid. Dit is egter nie net van Christene waar nie. God het in elke mens die honger na waarheid ingeskep. Selfs iemand wat self leuens vertel, wil nie voorgelieg word nie. Hy wil die waarheid hoor.
Dit word bevestig deur die navorsing van ʼn filosoof, Christian Miller. Hy is ʼn Christen en hy lei ʼn navorsingspan by Wake Forest Universiteit in Amerika. Hulle bestudeer eerlikheid. In sy boek The Honesty Crisis, wat in 2025 verskyn het, vertel hy van ʼn eksperiment. Sy span het vir mense ʼn lys van sestig eienskappe gegee. Hierdie sestig het onder andere bestaan uit deugde soos vergewensgesindheid, slimheid, vriendelikheid en nederigheid. Maar ook ondeugde soos luiheid. Eerlikheid was maar een van die sestig.
Toe het hulle drie vrae gevra. Watter eienskappe pas by ʼn mens wat jy graag by jou wil hê? Watter eienskappe pas by iemand vir wie jy respek het? En watter eienskappe vertel jou wie iemand werklik is?
Raai nou: watter eienskap het eerste gekom? Jy sou dink dit is deernis of vriendelikheid. Maar nee. In al drie vrae was dit eerlikheid. Meer as enige ander eienskap. Mense wil eerlike mense om hulle hê, hulle respekteer eerlike mense, en hulle wil weet of iemand eerlik is. Dit klop met ons eie ervaring.
Tog word die wêreld al hoe oneerliker. En die ergste is dat ons dit begin gewoond raak. Ons haal ons skouers op. Maar leuens is boos. Jesus het gesê die duiwel is die vader van die leuen. Dit staan in Johannes 8:44.
Jesus is die teenoorgestelde. Hy is nie net die bron van die waarheid nie. Hy is self die waarheid. “Ek is die waarheid,” sê Hy in Johannes 14:6. En Johannes skryf: “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Die Vader en die Seun is een God. Liefde en waarheid is dus twee kante van dieselfde muntstuk.
Gevolglik is liefde sonder waarheid nie God se soort liefde nie, en waarheid sonder liefde is nie Jesus se soort waarheid nie. Wanneer ons woorde die draers is van ʼn brutale, liefdelose waarheid, kan nóg Christus nóg die aanhoorder daarvan verheug wees. Ons het wysheid nodig om die waarheid só te praat dat die ander een dit as ʼn geskenk kan ontvang. Daarom moet ons altyd die waarheid praat, maar ons moet dit met biddende afhanklikheid van die Here, nederig doen.
Kom ons bid saam:
„U is Liefde!” juig ons harte, en bedink wat liefde doen:
Dat U ons u Seun gestuur het om ons sonde te versoen.
U wat eerste liefgehad het, het in liefde ons vergeef—
nou kan ons, uit u gebore, uit die bron van liefde leef!
Deur u Gees, die wondergawe, laat U wederliefde spruit;
en die liefde — wat volmaak is — dryf die vrees en selfsug uit.
As U, o Vader, dan ʼn sondaar maak tot kind,
mag u Seun al meer gestalte in ons doen en late vind.