Spreuke 19:2 “Ywer sonder kennis deug nie; oorhaastigheid bring foute.”
Die 2020-Bybelvertaling stel dit só: “Wie oorhaastig met sy voete is, trap mis.”
Ons ken die spreekwoord: “Haastige hond verbrand sy mond.” Die beeld is eenvoudig: ’n hond ruik ’n bak lekker, warm kos en kan nie wag nie. Hy gryp gretig daarna, net om die verwagte plesier vinnig te verruil vir die pyn van ’n verbrande mond.
Ywer en entoesiasme is goeie eienskappe. Dit trek aandag, wek energie en kan mense inspireer om in ’n bepaalde rigting te beweeg en dinge te verander. Dit is ook nie maklik om ’n groep wat reeds ’n bepaalde rigting ingeslaan het, tot stilstand te bring nie. Die moontlikheid van sukses is immers aanloklik, en die gevoel van momentum kan baie sterk wees.
Maar Spreuke se probleem is nie met ywer nie. Die probleem is oorhaastigheid. Ons leef met die voortdurende impuls dat die ooglopende en vinnige pad ons die vinnigste by bevrediging sal uitbring. Tog vra Spreuke ons om ’n ander vraag te vra: Is vinniger noodwendig beter? Die uitdaging is nie om bloot vinniger te leef nie, maar om reg te leef. Die beeld in die Hebreeuse teks herinner ons aan iemand wat doelgerig kyk waar hy of sy loop. Dit gaan daaroor om aandag te gee aan die pad wat op hierdie oomblik voor ons voete lê.
Wysheid leer ons daarom om die hede goed te bekyk, daaroor na te dink en te onderskei voordat ons ’n bepaalde rigting inslaan. Ons hoef nie altyd kop in die wolke te loop en vooruit te hardloop na die volgende doelwit nie. Soms moet ons eenvoudig kyk waar ons voete vandag staan.
Gebed
Here, ons dank U vir ywer, entoesiasme en die begeerte om iets van ons lewe te maak. Maar leer ons om nie so haastig te wees dat ons ophou onderskei nie. Ons wil nie net vinniger by ons doelwitte uitkom nie; ons wil reg leef. Gee ons die wysheid om aandag te gee aan die pad voor ons voete, om die oomblik waarin U ons geplaas het, raak te sien en om elke volgende tree met sorg te gee.
Bewaar ons daarvan om deur ons eie gretigheid en begeerte na onmiddellike sukses meegesleur te word. Wanneer ons wil vooruitstorm, leer ons om eers stil te word en te vra: Here, waarheen lei U my? Gee ons vandag die geduld om te wag, die wysheid om te onderskei en die moed om die regte tree te gee — selfs wanneer dit nie die vinnigste tree is nie. Amen.