Dagstuk | Donderdag 8 Oktober 2026

Dagstuk | Woensdag 7 Oktober 2026
Dagstuk | Vrydag 9 Oktober 2026

Spreuke 9:10 “Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig.”

Ons word vandag oorval met data. Kunsmatige intelligensie beloof om ons te help om vinniger by antwoorde, waarheid en selfs die essensie van dinge uit te kom. Dan is daar fopnuus, teenstrydige perspektiewe en mense wat ons deur die skyn van waarheid kan mislei.

Alles begin skielik relatief voel en elkeen hou vas aan sy of haar eie waarheid. Hoe moet gelowiges dan met al hierdie kennis omgaan? Die antwoord is dalk eenvoudiger as wat ons dink.

Die waarheid waarin ons glo, is nie slegs op ons eie kennis of die wêreld se kennis gegrond nie. Wysheid bring ’n dieper dimensie aan kennis. Kennis versamel feite en vra: “Wat is dit?” Wysheid neem hierdie kennis, ondersoek dit, onderskei daaroor en vra: “Wat beteken dit?” En meer nog: wysheid vra uiteindelik: “Hoe moet ek hierop leef?”

Waar kry ons hierdie wysheid wat ons kennis ondersoek en deurgrond? Die waarheid waarna ons soek, is op ’n verrassende plek te vinde. Nie in die wêreldwye web van data nie. Ook nie bloot in ons eie intelligensie, redenasievermoë of vermoë om te debatteer nie. Dit begin baie prakties met die dien van die Here. Dit beteken om onsself elke dag oop te stel vir die Heilige Gees en toe te laat dat God ons leer om van onsself te gee: om te help, te ondersteun en lief te hê. Ons ontdek wysheid juis in die werklike situasies van die lewe — waar selfbeheersing, nederigheid, goedheid, getrouheid, vergifnis en versoening oor ons pad kom.

Die waarheid is dalk nie so moeilik en versteek soos wat ons dink nie. Soms is dit reg voor ons oë, in die gewone oomblik waarin die Here vandag saam met ons leef.

Gebed

Here, ons leef in ’n wêreld waarin ons elke dag met meer kennis, data en menings oorval word. Help ons om nie te dink dat méér kennis noodwendig méér waarheid beteken nie. Leer ons om te onderskei. Gee ons die wysheid om nie net te vra: “Wat is dit?” nie, maar ook: “Wat beteken dit?” En help ons om met dit wat ons weet, goed en reg te leef.

Dankie dat U ons vandag die pad na die waarheid wys wanneer U teenwoordigheid en karakter op die mees praktiese maniere in ons dag sigbaar word. Here, ons maak ons oop vir U Gees. Lei ons vandag in u waarheid. Amen.